Algemeen | English | Artikels | Dienste | Die veeartse | Skakels | Kontak ons

Gesondheid en jou troeteldier

Dr C N Sparks BVSc


Troeteldiere het deur die jare 'n al hoe belangriker rol in die mens se lewe begin speel. Buiten die rol wat troeteldiere speel in geestelike welgesteldheid kan mens maar net dink aan hul gebruik as gidshonde, polisiehonde en waghonde. Dit is egter elkeen wat 'n dier besit, se plig om toe te sien dat sodanige dier goed versorg word en om om te sien na die dier se gesondheid.

Hoe gemaak om seker te maak jou troeteldier bly gesond ? Hier volg 'n paar algemene riglyne wat gevolg kan word om u troeteldier se gesondheid te bevorder:


Moet nooit meer diere aanhou as wat u behoorlik kan versorg nie. Dit is beter om diere wat nie vir teling bestem is nie, vroegtydig te kastreer of steriliseer. Sodoende kan ongevraagde kleintjies voorkom word voordat hulle by die DBV eindig. ( Dit is soms baie moeilik om vir daardie windhond x pug- kleintjies eienaars te kry.)

Ongesteriliseerde en ongekastreerde diere is meer geneig om rond te loop, daar breek gevegte uit a.g.v. tewe wat op hitte is en sulke diere kan maklik raakgery word. Siektes kan ook so oorgedra word hetsy deur kontak tussen diere (bv. hondesiekte) of deur bytwonde ( bv. hondsdolheid en sekere kat virussiektes.) As mens in ag neem dat die herstel van bytwonde en beenbreuke van die duurste prosedures is wat deur veeartse gedoen moet word, maak dit baie sin om dit eerder te probeer voorkom deur die diere te steriliseer en in die erf te hou.

Pasop vir middels wat verhoed dat die diere op hitte kom — van hierdie middels kan lewensgevaarlike baarmoederontsteking veroorsaak.


Indien u egter wel met u hond wil teel maak seker dat die teef se inentings op datum is voor sy op hitte is. Sodoende verseker mens dat die teef voldoende teenliggaampies na die klein hondjies oordra om hulle vir die eerste paar weke te beskerm teen van die dodelike virussiektes. Aangesien sommige wurms deur die melk van die teef en selfs in die baarmoeder na die kleintjies oorgedra kan word, is dit ook goed om die teef te ontwurm as sy op hitte is.

Die kleintjies word gewoonlik op 6 weke ouderdom ontwurm. Soms mag dit nodig wees om die diertjies al vroeër te ontwurm. Hoe dikwels diere ontwurm moet word, hang af van verskeie omgewingsfaktore — raadpleeg u veearts hieroor. Jong diere word egter meer gereeld ontwurm as ouer diere. Hondjies kry al op ses weke ouderdom hul eerste inentings en katte gewoonlik op 8 weke.

Dit word opgevolg met nog inspuitings 3 tot 4 weke later en dan weer 3 tot 4 weke later. Hierdie inentings is BAIE BELANGRIK aangesien dit effektief is om katgriep (parvo) en hondesiekte te voorkom — siektes waarvan die behandeling baie moeilik en duur is. Hierdie siektes is ook dan dikwels fataal. Hier is dit 'n geval van voorkoming is beter as genesing (en baie goedkoper). 'n Hondjie wat katgriep kry se kanse op oorlewing is maar ongeveer 50 %, terwyl 'n hondjie wat voldoende geënt is se kanse om die siekte te kry feitlik 0 is. Indien u 'n nuwe hondjie of katjie kry wat nie 'n bewys van enting het nie, moet u eerder die diertjie onmiddelik laat ent.

ONTHOU: Diere wat nie AL 3 hierdie eerste entings gekry het nie kan nog steeds siek word met katgriep of hondesiekte en selfs doodgaan daarvan. 'n "Drie-in-een" inspuiting beteken nie dat al drie die entings op een slag toegedien word nie, dit beteken bloot dat daar teen drie of meer siektes met een enting geënt word.

Volgens wet moet honde en katte op 3 maande teen hondsdolheid geënt word, gevolg deur skraagdosisse ongeveer 1 maand later en dan elke drie jaar. Hondsdolheid is nie ingesluit in die normale entings nie Hondsdolheid is altyd dodelik (ook vir die mens). Diere wat in kontak kom met 'n hondsdolheid dier en nie beskik oor 'n geldige hondsdolheid inentings bewys nie, sal ongelukkig vankant gemaak moet word vanweë die gevaar wat dit vir mense inhou. Alhoewel ons in 'n lae risiko area val, word daar wel gevalle van tyd tot tyd aangemeld en dit is dus beter om nie hiermee kanse te waag nie.



Hou u diere skoon van bosluise en vlooie — daar is verskeie middels op die mark wat u kan gebruik en u veearts sal u die regte inligting kan gee aangaande die korrekte middel om te gebruik vir u spesifieke toestande. Vlooie is die tussengasheer vir sekere lintwurms en kan ook allergieë en bloedarmoede veroorsaak. Bosluise dra natuurlik bosluiskoors en bosluisbytkoors wat albei dodelik kan wees.

Daar is geen enting teen hierdie siektes nie maar gelukkig is dit makliker om te behandel as die virussiektes. Spoedige optrede is egter nodig waar 'n dier aangetas is aangesien bosluiskoors 'n dier binne enkele ure kan dood. Hoe vinniger die dier behandel word, hoe beter die kans op oorlewing en hoe goedkoper is die behandeling. Die eerste tekens van 'n siek dier is gewoonlik swak eetlus. Enige dier wat lusteloos voorkom en 'n swakker eetlus as normaal het moet eerder ondersoek word voor dit te laat is. Indien u enige vrae het aangaande u troeteldier — kontak ons gerus per e-pos of kontak u naaste veearts.


Onthou u veearts is die enigste persoon wat voldoende opgelei is om u van raad te bedien aangaande alle dierverwante kwessies.