Algemeen | English | Artikels | Dienste | Die veeartse | Skakels | Kontak ons

Bosluisbytkoors (Ehrlichiose)

Dr W J Grobler BVSc


  1. INLEIDING
  2. SIMPTOME
  3. DIAGNOSE
  4. BEHANDELING
  5. VOORKOMING
  6. OPSOMMING

1. INLEIDING


Min mense besef dat bosluisbytkoors en bosluiskoors hemelsbreed verskil. Terwyl bosluiskoors maklik met 'n bloedsmeer gediagnoseer kan word, is dit soms baie moeilik om 'n diagnose te maak in die geval van bosluisbytkoors. Die siekte word veroorsaak deur 'n bakterium wat deur die Hondehokbosluis (Rhipicephalus sanguineus) aan vatbare honde oorgedra word. Hierdie bakterium genoem Ehrlichia canis leef slegs binne-in liggaamselle, 'n eienskap wat dit onderskei van die meeste ander bakterieë.


2. SIMPTOME

Die siekte kom gewoonlik in drie stadiums voor:

Akute stadium
Duur 'n paar dae waarna tydelike herstel plaasvind.
Subakute stadium
Hierdie stadium kan weke tot maande duur waartydens die dier kort periodes van siekte beleef.
Chroniese stadium
Na etlike maande of jare word die hond se immuunstelsel totaal afgetakel en sterf hy aan ernstige sekondêre infeksies of bloeding.

Die volgende simptome kan te eniger tyd in die verloop van die siekte voorkom in verskillende kombinasies:

Bloedings in die longe met bosluisbytkoors
Fig. 1 Bloedings regdeur die longe in 'n bosluisbytkoorsgeval
Bloedings in die niere met bosluisbytkoors
Fig. 2 Bloedings in die niere in 'n bosluisbytkoorsgeval

In die chroniese stadium van die siekte vererger die simptome geleidelik totdat die dier uiteindelik aan erge longontsteking of dergelike sekondêre probleem sterf.


3. DIAGNOSE

Die organismes word in 'n klein persentasie van gevalle in die witbloedselle in 'n bloedsmeer gesien (Fig. 3). Hierdie bondeltjie organismes word 'n morula (moerbei) genoem. In die oorgrote meerderheid van gevalle, veral in die subakute en chroniese gevalle word organismes egter selde gesien en is ander diagnostiese metodes nodig. Teenliggaampies teen die organismes kan in serum van siek diere gevind word. Daar is twee tipes — die een dui op 'n onlangse besmetting (IgM), terwyl die tweede dui op 'n besmetting verskeie maande tevore (IgG). As die twee soorte saam voorkom, beteken dit dat die hond in die subakute stadium is. Word net IgG gevind, beteken dit slegs dat die dier al tevore aan bosluisbytkoors blootgestel was en nie dat dit steeds siek is daaraan nie.

Morula in monosiet
Fig. 3 Bosluisbytkoorsorganismes in 'n witbloedsel (pyltjie).

Daar bestaan ook deesdae 'n toets wat baie klein hoeveelhede DNS van die organisme kan opspoor in 'n druppel bloed. Hierdie toetse is uiters sensitief, veral as monsters van die milt of longe verkry word.


4. BEHANDELING

Op hierdie tydstip is daar slegs een antibiotikum wat definitief bewys is om te werk teen bosluisbytkoors. In die meeste gevalle word dit binne-aars toegedien vir drie tot vyf dae aan die begin van die behandeling. Daarna word mondelingse behandeling voortgesit vir 'n verdere twee weke of in chroniese gevalle vir langer periodes. Indien longontsteking ook voorkom, word ander antibiotika ook toegedien, aangesien die middel teen bosluisbytkoors nie sterk genoeg is in die meeste gevalle van longontsteking nie.

Vitamiene word toegedien om die eetlus te bevorder. In geval van bloeding word bloedstolmiddels toegedien, maar in ernstige gevalle mag dit nodig wees om vars bloed te gee. Steroiëde word soms gegee om die hond se gestel op te bou en te help met die herstelproses. Goeie kos is ook baie belangrik om die hond in 'n stygende fase van voeding te hou.


5. VOORKOMING

Daar is nie op hierdie stadium 'n entstof teen bosluisbytkoors nie. Dit is nie seker of 'n entstof wel moontlik is nie, aangesien baie diere nie eers natuurlikerwys 'n weerstand opbou nie en herhaaldelik besmet kan word. Die belangrikste voorkomende maatreël is om honde so goed u kan bosluisvry te hou. Dit behels gereelde dip (weekliks in die somermaande) of die gebruik van langwerkende bosluisbande of aanspuitmiddels. Dit is egter baie moeilik om honde in hierdie warm klimaat algeheel vry van bosluise te hou, dus moet 'n siek dier so gou moontlik aandag kry.


6. OPSOMMING

Bosluisbytkoors is meestal 'n uitgerekte siekte, hoewel akute sterftes ook voorkom. In die meeste gevalle kan vroegtydige optrede wel die dier se lewe red. As daar goeie reëns val in die voorjaar is bosluise en dus ook bosluissiektes die volgende somer 'n groot probleem. Ter wille van die mens se beste vriend word alle honde-eienaars gemaan om nie kanse te waag met allerlei boererate nie, maar hul diere so gou moontlik te neem vir behandeling.


Erkenning:

Fig 1, 2 en 3: Bristol Biomedical Image Archives © University of Bristol 1999