
Die toedien van Hartwaterbloed.
Dr C N Sparks BVSc
Ons vind soms dat van ons kliënte die hartwaterentstof nie korrek ontdooi en gebruik nie. Ons kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is om die hartwater- (en ook Rooiwater- en Galsiekte-) entstowwe korrek te vervoer en ontdooi nie. Onthou hierdie is lewendige entstowwe wat beteken dat dit lewendige organismes bevat. Vir die entstof om effektief te wees moet die organismes oorleef vandat die entstof ontdooi word, totdat dit vir die dier toegedien word. Die entstof kan slegs bewaar word in vloeibare stikstof vir lang periodes. (Tot en met die vervaldatum). Dit kan ook vir enkele dae in droë ys bewaar word. Dit kan nie in 'n yskas of vrieskas bewaar word nie.
Die entstof kan op die volgende maniere ontdooi word:
- Haal die entstof uit die droë ys of vloeibare stikstof en ontdooi in water by 37 tot 40 grade Celsius (liggaamstemperatuur). Gebruik dan dadelik.
- Haal die entstof uit die droë ys of stikstof en ontdooi soos bo waarna dit dadelik in 1 deel ys en 3 dele water geplaas word. Dit moet dan binne 30 minute gebruik word.
- Plaas die entstof vanuit droë ys of vloeibare stikstof direk in 1 deel water en 3 dele ys en gebruik binne 4 ure. Dit neem so 60 minute om te ontdooi.
Ons versoek ons kliënte om asb. 'n koelhouer saam te bring wat met 1 deel water en 3 dele ys gevul is wanneer u kom hartwaterbloed kry. As u nie die bloed binne 4 ure gaan toedien nie, moet u asb. droë ys of 'n stikstofkan saambring.
'n Paar belangrike punte:
- As die entstof ontdooi is, kan dit nie weer gevries word nie.
- Die dosis is 3 ml per dier.
- Die entstof word stadig binneaars toegedien.
- In uitsonderlike gevalle kan die diere 'n skokreaksie toon wat selfs fataal kan wees.
- Moenie die entstof in dragtige diere gebruik nie.
- Kalwers moet onder 3 weke geënt word en lammers voor 7 dae om te voorkom dat hulle 'n koorsreaksie kry. Dit is dan nie nodig vir 'n Tetrasiklien blokinspuiting nie
- Onthou dat volwasse diere wat geënt word hartwater kan ontwikkel en hulle moet voorkomend daarteen behandel word. Kontak asb. een van ons indien u volwasse diere wil inent.
- Onthou dat tetrasikliene (bv. Terramycin ®) die entstof sal neutraliseer en dit moenie gebruik word 3 dae voor inenting en tot en met die blokinspuiting toegedien word nie. Jong diere moenie behandel word met tetrasikliene vir 3 weke na die enting nie.
- Diere moet vry van bosluise gehou word vir die eerste vier weke na inenting, veral as hulle teen rooiwater ook geënt moet word. Na die periode kan 'n redelike bosluislading toegelaat word.