
VOEDING VAN PAPEGAAIE — MOETS EN MOENIES
Dr T van Egdom BVSc
In die natuur vreet papegaaie ‘n groot verskeidenheid van kosse, o.a. jong blare, bloeisels, vrugte, insekte en bietjie saad. ‘n Dieet wat hoofsaaklik uit sonneblomsade bestaan het tekorte in meer as twaalf voedingstowwe, o.a.: kalsium, Vitamine D, Vitamiene A, Vitamiene K, sekere aminosure (lisien en metionien), B Vitamiene (veral B12), mangaan, sink, yster, jodium, en selenium. Dit is ook baie hoog in vet. ‘n Sonneblomdieet kan lei tot oorgewig, swak veerkwaliteit, epilepsie en ‘n verhoogde vatbaarheid vir siektes.
Ons kan nie die voëls presies dieselfde voer as wat hulle in die natuur eet nie, aangesien die presiese dieet meestal nie bekend is nie. ‘n Gebalanseerde dieet bestaan uit koolhidrate, vette, proteïene, water, minerale, vitamiene en vesels in die regte verhoudings. Om ‘n saadmengsel te voer en dit te probeer balanseer met die byvoegings van gekorrelde voedingstowwe (“pellets”) is gewoonlik onsuksesvol, aangesien meeste voëls eerder die sade sal eet en die korrels sal los. Deur ‘n onderhoudsrantsoen bestaande uit korrels te voer as 50% van die dieet met vrugte, groente en ander kosse wat die res uitmaak, kan ‘n gebalanseerde dieet bewerkstellig word.
Neute en sade moenie meer as 20% van die dieet uitmaak nie. Daar is ‘n aantal goedgebalanseerde diëte beskikbaar in korrel- en papvorm. Voorbeelde sluit in Avi-Plus, Tru-Bird en Kaytee. As u gelukkig is en u papegaai sal hierdie kos eet, kan u gerus wees dat die voël ‘n gebalanseerde dieet inkry. Papegaaie kan van ons mense se tafelkos ook eet, maar onthou dat ‘n halwe grenadella vir ‘n papegaai die ekwivalent is van ‘n mens wat ‘n halwe vrugtebak vol grenadellas eet. Gebruik voedsel wat laag aan vet is aangesien papegaaie ook met cholesterol kan sukkel. Beperk sout in die dieet. Voëls kan stysels soos pasta, gekookte rys, aartappels, brood en graankosse eet. Veral heelgraanprodukte moet gebruik word.
Proteïenbronne wat gevoer kan word (nie meer as 2x per week nie) sluit in gekookte laevet vleis, tuna, roer- of gekookte eier, bietjie kaas en jogurt. Moenie gewone melk gee nie. Gekookte peulgewasse soos boontjies, ertjies en lensies kan daagliks gegee word. Moenie van groente vergeet nie. Groente is eintlik ‘n beter bron van vitamiene en minerale as vrugte. Vars en/of gekookte groentes kan tot ‘n derde van die dieet uitmaak. Donkergroen groente soos spinasie, soet groenrissies (“green peppers”), wortelblare, groenbone, broccoli, beetblare en geel/oranje groente soos pampoen, mielies, wortels, soet rooirissies (“red peppers”), rooirissies (slegs een op ‘n slag), is die beste. Gerasperde groente is makliker om te eet. Voer altyd ‘n verskeidenheid van groente en ander kosse om verveeldheid te keer en die dieet gebalanseerd te hou.Gekookte kosse moenie langer as 6 ure in die hok gelos word nie, aangesien dit kan bederf en skadelik kan raak vir die voëls.
Ekstra kalsium kan in die vorm van eierdoppe van gekookte eiers (nie rou eiers nie) verskaf word. “Cuttlefish bone”, mineraalblokke en oesterdoppe kan ook gebruik word of dan ‘n kommersiële kalsium byvoegsel. Dit is veral belangrik tydens broeityd en groei. Dit lyk of African Greys meer kalsium benodig as ander spesies. Papegaaie benodig nie gruis in hul dieet nie, oormatige gruisklippies kan selfs bydra tot obstruksie van die voormaag.
Dit is belangrik dat voëls ongeveer 15 minute per dag direkte sonlig kry. Dit moet nie deur glas gefiltreer wees nie. Direkte sonlig is nodig vir Vit D- en kalsiummetabolisme. Maak seker dat die voël nog steeds toegang het tot skaduwee en beskut is teen roofdiere.

Die volgende kosse MOET NIE gevoer word nie:
- Avokado
- Pietersielie (giftig vir kanaries)
- Sjokolade
- Stimulante soos koffie en kaffeïnbevattende koeldrank soos koladrankies
- Alkohol
- Nikotien
- Blaarslaai
Belangrike punte met die omskakeling na korrels en ‘n gebalanseerde dieet:
Die probleem is dat baie voëls kieskeurig is en net saad sal eet of kos waarvan hulle hou. Om die dieet reg te stel moet saad slegs as ‘n aanvulling tot die dieet gesien word en nie as die hoofkomponent daarvan nie. ‘n Volledige gekorrelde dieet soos Avi-Plus, Kaytee of Tru-Bird kan as die hoofkomponent van die dieet gebruik word. Wanneer die dieët verander word moet nuwe kossoorte geleidelik ingefaseer word. Dit help om van die kos voor die papegaai te eet, aangesien hulle eerder kos sal eet wat deur die ander voëls of mense waarmee hulle assosieer geëet word. Dit help om groot stukke groentes in klein stukkies te rasper.
Die mees suksesvolle manier om 'n voël te leer om 'n gesonde dieet te eet is soos volg: Sit sonneblomsaad in vir ongeveer een uur soggens. Verwyder dan die saad en vervang dit met korrels of volwasse pap (aangemaak met water met 'n bietjie bruinbrood gemeng). Teen middagete word dit vervang met groente en vrugte vir die res van die middag. Kleiner parakiete kan egter vir tien tot twintig minute saad kry voor die groente en vrugte. Tydens aandete word die groente en vrugte vervang met saad vir ongeveer twintig minute, waarna enigiets wat oorgebly het van die huismense se ete vir die voël voorgesit word tot die volgende oggend. Die volgende oggend herhaal die hele proses hom van voor af. Met alle papegaaie en parakiete is beperking van keuse baie belangrik, aangesien die meeste voëls soos vierjariges dink en eerder lekkernye soos saad sal eet as gesonde korrels.
Handige wenke: Totdat die voël goed aan die korrels vreet, gooi net die bodem vol, anders mors hulle baie. Hulle hou die meeste van appels, wortels,gekookte botterneut en boontjies. Indien u voël een van sovele is wat verslaaf is aan sonneblomsaad, kan die oorskakelingsproses ‘n lang en traumatiese proses wees — hou vir ten minste ses tot agt weke vol met die roetiene. Die gesondheidsvoordele wat dit vir u papegaai inhou is egter so belangrik en sal die voël vir die res van sy of haar lewe bevoordeel. Sterkte!