Riglyne vir die aankoop van vleisbeesbulle
Dr G Gaigher BVSc
Om sy bestaan te regverdig, het die stoetveebedryf 'n verantwoordelikheid teenoor die land se kommersiële beesvleisprodusente. Daarom is dit belangrik dat bulle wat aan die
bedryf voorsien word, werklik tot ekonomiese verwante eienskappe moet bydra. Kosmetiese tierlantyntjies wat min of dikwels geen verband met ekonomiese beesvleisproduksie het nie, moet vermy word.
 |
Toverberg Global Magic |
Dit is die stoetteler wat moet besluit wat in die beesvleisbedryf belangrik is en sy teelbeleid daarby moet aanpas. In sy besluitneming moet hy hom deur vakkundiges, kommersiële beesvleisprodusente en die verbruiker laat lei. Elke beesras se toekoms word deur
die kommersiële beesboer bepaal en nie deur handel van stoetdiere binne die ras nie.
Terselfde tyd behoort die stoetboer se toestande
en manier van boer so min as moontlik van die van die kommersiële boer te verskil.
Die feit dat die bul die feno- en genotipe van die kudde bepaal — dus hoe die kudde in die
toekoms gaan lyk en presteer word nog ligtelik oor die hoof gesien. Bulle is binne drie geslagte (12-15 jaar ) vir 90% van die kudde se genetiese samestelling verantwoordelik.
 |
RGR 99-64 — 'n goedbespierde bul |
Die vleisbeesbedryf van vandag vereis diere wat in hulle totale omgewing aangepas moet
wees en in 'n wye spektrum van verskillende omgewings moet kan produseer. Diere moet
kan produseer op natuurlike veld en vir optimale produksie moet 'n bul dus 'n ewewig met sy omgewing kan handhaaf. Daarom beteken seleksie vir aanpasbaarheid 'n uitkenning van
diere wat in hulle totale omgewing die beste produseer.
Omdat 'n bul net vir kort
tye werk en net semen produseer, is dit vir hom redelik maklik om in sy omgewing aan
te pas en te gedy.
'n Beter maatstaf van aanpasbaarheid word in die koeikudde se reproduksievermoë gevind. Prakties beteken dit dat 'n mens bulle moet selekteer uit moeders
wat elke jaar kalf en 'n swaar kalf speen. Sulke koeie is beslis goed in hul omgewing aangepas. Hoe jonger die koei boonop in produksie kom, hoe beter is dit, mits dit nie veroorsaak dat sy daarna oorslaan nie. Ouer koeie met 'n lang produktiewe lewe is ook goed aangepas en bulle uit sulke koeie behoort verkies te word bo bulle uit junior koeie
wat nog nie hul vermoë getoon het nie. Vermy waar moontlik bulle wie se moeders oorgeslaan het of wat selfs hul kalwers voor speentyd om een of ander rede verloor het. Verskonings vir sulke koeie maak nie goeie sin uit nie.
Onthou dat die bul ook die moedereienskappe van die toekomstige koeikudde dra en nie net die groei eienskappe nie.Die belangrikheid van die bul se ma kan nie oorbeklemtoon word nie. Waar moontlik behoort
ook na die bul se halfsusters gekyk te word, veral wat betref uierontwikkeling en vroulike
voorkoms.
Algemene beginsels by die aankoop van vleisbeesbulle:
- Probeer bulle koop uit 'n omgewing wat die naaste met die omstandighede op jou
eie plaas ooreenstem.
- Koop bulle uit kuddes wat beter is as jou eie. Gaan kyk na die hele kudde en nie
net na voorbeelde op veilings en skoue nie. Spandeer tyd op die verkoper se plaas om al
sy diere te sien — onthou dit is beslis die moeite werd om 'n hele dag of dae te spandeer
aan die keuse van 'n bul wat vir jare 'n invloed op u kudde gaan hê.
- Koop net bulle uit kuddes wat volledige en betroubare rekords het. Geloofwaardigheid is absoluut noodsaaklik. Wees versigtig vir 'n teler wat nie al sy rekords of beeste
wil wys nie, aangesien hy gewoonlik iets het om weg te steek.
- Wees objektief in die gebruik van prestasietoetsrekords. Onthou prestasietoetsing
is 'n belangrike hulpmiddel met die seleksie van bulle, maar dit moet in balans met al die
ander eienskappe gehou word. Gewoonlik het net die boonste 5-10 % van enige kudde se bulle die vermoë om hul nageslag vinnig te verbeter
.
- Maak gebruik van blup teelwaardes met die uitsoek van 'n bul. Hierdie moderne
hulpmiddel is in die meeste rasse reeds beskikbaar en moet tans as die belangrikste hulpmiddel beskou word in die seleksie van bulle. Onthou deur teelwaardes te gebruik in die
seleksie van bulle kan u leemtes in u eie kudde baie gouer regstel. Indien u nie die gebruik
van teelwaardes ken of verstaan nie, is dit u plig om op hoogte te kom daarvan, anders
gaan u beslis agterbly by u mede beesboere. Die LNR en verskeie telersverenigings
bied gereeld kursusse aan oor die gebruik van teelwaardes.
- Nadat 'n bul in 'n kudde gebruik is, moet sy nageslag so gou moontlik objektief
evalueer word. Raak ontslae van 'n bul wat nie aan die verwagtinge voldoen nie en moet
hom nie aanhou gebruik omdat u baie vir die bul betaal het nie.
- Koop strategies. Probeer die swak punte in jou eie kudde reg te stel deur bulle te
kies wat positief vir daardie eienskappe is.
 |
Goeie pigmentasie in 'n Bonsmarabul |
Die perfekte bul is nog nie geteel nie. Daar is ook nie superbulle nie — net beter en
swakker bulle. Vir funksionele doeltreffendheid word eers na die bul in geheel gekyk om 'n algemene indruk te kry, dus hy moet soos 'n bul lyk. Hy moet manlik vertoon — dit is 'n
eienskap wat sterk in die kleurverskille van sy haarbedekking vertoon word. Hy behoort oor die nek, bo-skenkel en dye donkerder te vertoon soos in die bul regs. Bespiering wat die indruk van 'n ronde spiervorm wek, is ook 'n teken van manlikheid. Ponietipes is egter vinnig geslagsryp en vertoon dus ook baie manlikheid. Hulle moet vermy word, so ook bulle
wat plat en osserig vertoon. Die bul moet wakker wees en belangstel in wat om hom aangaan. Voorts moet die bul 'n goeie balans met goeie kapasiteit en sprong van rib toon.
Sy stand en gang moet goed wees. Regop hakke, X-bene, swak kootgewrigte wat deursak, abnormale klougroei en enige iets wat sy beweging benadeel, is ongewens. Vir die warmer dele van die land moet daar ook gelet word op 'n gladde haarbedekking, goeie pigmentasie en 'n beweeglike vel. 'n Sterk breë bek is ook belangrik.
- Bestee die wintertyd om stoetkuddes te besoek en deeglik te bestudeer voordat
bulle finaal uitgesoek word. Onthou die regte bul is nooit te duur nie. As riglyn is die
prys van 'n goeie bul gelykstaande aan die prys van vyf kommersiële koeie.
- Ten spyte van al die bogenoemde is dit tog uiters belangrik dat die bul van u keuse vir u aantreklik moet wees.
Bron: Landbouweekblad
Indien u meer inligting verlang, kontak gerus u naaste grootdierveearts.