Algemeen | English | Artikels | Dienste | Die veeartse | Skakels | Kontak ons

Papegaai bek-en-veersiekte


Dr T van Egdom BVSc


PBFD is ‘n virussiekte wat net die papegaaifamilie aantas.  Die siekte is in die 1970’s vir die eerste keer in verskeie spesies van Australiese kaketoes geïdentifiseer.  Vandag sien ons dat die ou wêreld papegaaie (voëls van veral Afrika) baie meer vatbaar is vir die siekte as nuwe wêreld papegaaie.   Die siekte word meestal oorgedra deur die veerstof van voëls wat die virus het, maar die virus is ook in die mis van voëls geïsoleer en in klein hoeveelhede in kroppe van siek voëls gekry.  Dit beteken dat geïnfekteerde volwasse voëls die virus kan oordra na hulle kleintjies deur die kleintjies te kropvoer, maar dit gebeur egter nie algemeen nie.   Die virus kan ook deur die eier oorgedra word na die kleintjie.


Oordrag

Die belangrikste en algemeenste manier van oordrag is deur die veerstof van siek voëls.   PBFD is ‘n baie aansteeklike siekte en is fataal.   (Daar is egter ‘n baie klein persentasie van voëls waarvan die immuunstelsel van die virus ontslae kan raak.)  Dit kan vergelyk word met VIGS in mense.


Chroniese vorm

Dit is ‘n kroniese verwerende siekte wat in die latere stadium van die siekte gekenmerk word deur abnormale vere wat nie behoorlik ontwikkel nie en ‘n nekrotiese en abnormale snawel.  Voëls wat die siekte het is baie vatbaar vir sekondêre infeksies vanwee die virus se immuun-onderdrukkende eienskappe en dit is die sekondêre infeksies wat gewoonlik tot vrektes lei.  Daar is geen medikasie teen die virus nie , maar met goeie voeding en vroeë behandeling van sekondêre infeksie kan ‘n voël met kroniese PBFD etlike jare oorleef.  Daar moet net in ag geneem word dat dit baie aansteeklik is vir ander papegaaie en dus implikasies het vir multi-voëlhuishoudings om ‘n PBFD positiewe voël aan te hou.  Vra u veearts vir verdere inligting.


Akute vorm

Daar is ook ‘n akute vorm van die siekte.  Dit kom gewoonlik voor in jong voëls tussen 8-13 weke, maar kan in ouer voëls so oud as 8 maande voorkom.  Die voëltjies raak tipies siek, sit met opgepofde vere , verloor of het ‘n baie swak eetrefleks en gooi soms op.   Hulle is ook baie swak.   Die virus tas vinniggroeiende selle aan , dus die lewer , beenmurg en rooibloedselle.  Die voëltjies is gewoonlik bloedarmoedig ( te min rooibloedselle in die bloed) en dit is ook dan die oorsaak van sterfte.  99% van aangetaste babavoëltjies vrek binne 1-6 dae nadat hulle siek geword het as gevolg van bloedarmoede.


Behandeling

Behandeling is ondersteunend met antibiotika om sekondêre infeksie te voorkom en ekstra vloeistowwe , maar is gewoonlik oneffektief.


Voorkoming

Biosekuriteit:  Alle voëls wat gekoop word moet verkieslik binne ‘n week ‘n bloedtoets ondergaan vir PBFD.   Dan kan die eienaar teruggaan na die verskaffer van die voël as die voël positief getoets het.   As die voël positief toets moet daar ‘n maand gewag word en die toets herhaal word want ‘n klein persentasie van gevalle kan self van die virus ontslae raak.   As dit ‘n teelvoël is wat ‘n tweede keer positief toets moet die voël uitgesit word, aangesien die virus deur die eier na die babavoëltjie oorgedra kan word.   Dit is belangrik om alle nuwe voëls vir ‘n maand in kwarentyn te hou om te voorkom dat daar nie siektes oorgedra word na die gesonde voëls nie.  Siek baba- en jong voëls waar PBFD vermoed word, moet ook getoets word al vrek die voëltjies gewoonlik voor die toets se uitslae beskikbaar is, aangesien ‘n positiewe toets implikasies het vir ander voëls in die huis en vir die aanskaf van ‘n volgende voël.

Raadpleeg asseblief jou veearts vir raad in die verband om jou baie hartseer te spaar.  Die belangrikste is seker om voëls van ‘n betroubare teler te koop, wie se voëls getoets is vir PBFD.