
Katleukemie
Dr T van Egdom BVSc en Dr C N Sparks BVSc
Hierdie siekte veroorsaak immuunonderdrukking, ernstige bloedarmoede en kanker in katte. Die virus kom wêreldwyd voor en affekteer huiskatte en 'n paar van die ander felidae groepe.
OORDRAG
Katte wat reeds met hierdie virus besmet is, is die grootste bron van FeLV. Hierdie draers dra groot hoeveelhede van die virus oor deur middel van hul speeksel, trane, uriene en feses. Katte wat aan mekaar lek/ruik, hul uriene, gedeelde kos en sandbakke is die waarskynlikste maniere waarop die siektes tussen katte oorgedra kan word. Bytwonde is 'n belangrike wyse van oordraging maar meer onder buite katte.
Jong katjies is baie meer vatbaar as volwasse katte. By jong katjies word die virus oorgedra in die baarmoeder, deur moedersmelk, speeksel, feses en uriene. Verlengde intieme kontak tussen volwasse katte is nodig om hierdie virus oor te dra aangesien die virus kwesbaar is en 'n hoe getal van die virus nodig is vir oordraging deur die neus of mond.
Dit neem ongeveer 2-4 weke na infeksie voordat die virus in die bloedstroom (viremie) van die geinfekteerde kat begin sirkuleer. Die akute fase van die siekte word gewoonlik nie maklik opgetel nie en by 70% van katte duur die verspreiding van die virus 1 - 16 weke. By sommige katte kan die verspreiding voortduur vir maande na die viremie.
Die virus kan voortduur in die beenmurg, maar verdwyn gewoonlik binne 6 maande. Ongeveer 30% van alle katte het nie die nodige immuniteit teen hierdie virus nie en word permanent viremies en voortdurende draers. Sulke katte kan vir maande lank klinies gesond voorkom, selfs jare voordat hulle die fatale siekte ontwikkel.
SIMPTOME WAT VEROORSAAK WORD DEUR FeLV:
- Gewigsverlies en dowwe pels
- Immuunonderdrukking: Katte kan maklik siek word van bakteriele, virale en swaminfeksies soos: lugweg infeksie en entiritis.
- Limfoïede en Mieloïede gewasse: katte met FeLV is 60 keer meer geneig tot ontwikkeling van hierdie gewasse as katte wat FeLV negatief is.
- Anemie (tekort aan rooibloedselle)
- Voortplantingsprobleme: Infertiliteit en aborsies
- Neurologiese versteurings kom ook soms voor.
DIAGNOSE:
'n Bloedtoets wat ongeveer 5 - 10 minute duur, kan gedoen word. Hierdie toets kan by u dierekliniek gedoen word terwyl u wag.
BEHANDELING:
Daar is ongelukkig geen spesifieke behandeling beskikbaar nie. Basiese behandeling word toegepas met die oog op die behandeling van sekondêre infeksies.
VOORKOMING:
Hierdie is een van die siektes waar voorkoming beter is as genesing. Met die toename in FeLV sal ons aanbeveel dat katte geënt word daarteen. Katte moet eers getoets word alvorens hulle geënt word aangesien daar geen nut daarin is om 'n positiewe kat te ent nie. Klinies gesonde katte wat positief toets kan weer getoets word na 6 maande. Sodra al die huishouding se katte negatief getoets het en geënt is, moet alle nuwe katte getoets en geënt word voor hulle met die katte in aanraking kom.
Inentings bestaan uit 'n primêre enting, 'n skraagdosis ("booster") 3 - 4 weke later sowel as 'n jaarlikse skraagdosis. Daar is 'n kombinasie van entstowwe beskikbaar wat die gewone 3/1 enting insluit. Klein katjies kan vanaf die ouderdom van 9 weke af geënt word. Katte wat positief toets, moet apart gehou word van ander katte asook aparte kos, waterbakke en sandbokse gebruik. Besmette, gesonde katte moet gesteriliseer/kastreer word om oordraging van wyfie na kleintjies, sowel as van kat na kat deur bytwonde te voorkom.
Indien u enige vrae het aangaande u troeteldier — kontak ons gerus per e-pos of kontak u naaste veearts.Onthou u veearts is die enigste persoon wat voldoende opgelei is om u van raad te bedien aangaande alle dierverwante kwessies.