
Geslagsiektes in beeste
Dr G Gaigher BVSc
![]() |
Die Trichomonas-organisme |
Ons wil net u aandag vestig op die belangrikheid om u beeskudde te beskerm teen geslagsoordraagbare siektes soos Campylobacter (Vibriose) en Trichomonas. Hierdie twee siektes word van bul na koei oorgedra en andersom. As die siekte eers in die kudde is veroorsaak dit resorpsies (vroeë aborsie), aborsies en verlaagde vrugbaarheid. Koeie herstel gewoonlik na drie normale hitte-siklusse, maar ‘n klein persentasie kan draers van die siekte bly en ‘n bul weer besmet. Veral ouer bulle is permanent besmet en selfs intensiewe behandeling is selde suksesvol. Jong bulle raak makliker van die besmetting ontslae, maar kan ook permanent besmet wees.
Wat u moet doen om u kudde te beskerm:
- Koop jong bulle wat nog nooit gedek het nie (sogenaamde “virgin” bulle).
- Koop slegs bulle uit kuddes wat aan u bekend is en wat u weet nie probleme met vrugbaarheid en aborsies het nie. Hier is dit baie belangrik om die veearts te kontak wat die kudde bedien waaruit u ‘n bul wil koop. Hy sal u kan inlig omtrent die status van die kudde.
- Indien u bure het wat ook met beeste boer moet u ook op hoogte wees wat in hul kuddes aangaan om die risiko te verminder vir u eie kudde, aangesien besmette bulle en koeie moonlik ook agv swak heinings u eie diere kan besmet.
- Moet nooit bulle koop op ‘n oop veiling waar geen toetse op bulle en koeie gedoen is nie. Die siekte word meesal in ‘n kudde ingebring deur ‘n besmette bul, maar onthou dat ‘n besmette koei net so maklik u hele kudde kan besmet. Hier is die reël van diere koop uit slegs bekende skoon kuddes dus ook baie belangrik.
- Ons aanbeveling met die koop van ‘n bul is om hom tenminste drie keer te laat toets vir geslagsiektes en dit sluit jong “virgin” bulle in omdat hulle soms onwetend reeds koeie kon gedek het. Onthou dat hierdie siektes ‘n geweldige ekonomiese terugslag vir u boerdery kan beteken agv verliese in kalwers en gepaardgaande ekonomiese verliese omdat u vir ‘n geruime tyd nie koeie en bulle sal kan verkoop nie, behalwe aan ‘n slagter.
Indien u meer inligting verlang, kontak gerus u naaste grootdierveearts.