
Vrugbaarheidsondersoek in bulle — 'n Koste-analise
Hierdie is 'n verkorte weergawe van 'n artikel geskryf deur Prof. Johan Nöthling, Afdeling Voortplanting, Department Produksiedierstudies, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria. In dié artikel word gepoog om die koste-implikasies te bepaal wanneer bulle wat deur 'n veearts getoets is in 'n kudde gebruik word teenoor die gebruik van ongetoetste bulle.
In die eerste gedeelte word verduidelik watter aannames gemaak is met die opstel van hierdie model. Al hierdie aannames is gebaseer op werklike data van toepassing op die Suid-Afrikaanse mark in 2003 of op die resultate van verskeie wetenskaplike artikels oor vrugbaarheidsondersoeke. Met inflasie inaggenome sal die reële besparing teen vandag se pryse natuurlik heelwat meer wees. Tabel 1 lys al die uitgawes wat ingesluit is in die berekeninge gebruik om by die bedrae in Tabel 3 uit te kom. Hierteenoor lys Tabel 2 die verskille tussen verskeie vrugbaarheids- en bemarkingseienskappe van getoetste teenoor ongetoetste bulle. Die twee hoofverskille is dat meer vroulike diere tydens hul eerste hitte beset raak en dat die besettingstempo hoër is by getoetste bulle. Dit lei daartoe dat meer speenkalwers geproduseer word en dat hulle vroeër bemarkbaar is.
Inhoudsopgawe
- Aannames
- Tabel 1. Pryse en kostes in berekeninge gebruik
- Tabel 2. Invloed van gebruik van getoetste teenoor ongetoetste bulle
- Tabel 3. Teoretiese effek op wins met gebruik van geslagsgeskikte bulle
- Gevolgtrekking
- Vrywaring
Aannames
Die volgende aannames is gemaak ten einde die invloed van vrugbaarheidsondersoeke op die wins van 'n vleisbeesonderneming te bepaal:
- Die boer bedryf 'n kommersiële vleisbeesonderneming.
- Die plaas ter sprake is op suurveld in 'n sentrale deel van Suid-Afrika geleë, 80km vanaf 'n veearts, 80km vanaf 'n veeartsenykundige laboratorium en 150km vanaf 'n voerkraal.
- 'n Konserwatiewe toename in Eerste Hitte Besettingstempo (EHBT) weens die gebruik van geskikte bulle van 7,7% word gebruik m.a.w. 'n EHBT van 46,8% vir ongetoetste bulle teenoor 54,5% vir getoetste, geslagsgeskikte bulle. Dit beteken dat 54,5% van die vroulike diere dragtig sal raak met hul eerste hitte indien geslagsgeskikte bulle gebruik word.
- Slegs bulle wat getoets en geslagsgeskik bevind is, word aangekoop. Daar word ook 'n enkele skedewassing gedoen vir Campylobacteriose (Camp) en Trichomoniose (Trich).
- Een skedewas van elke bul op die plaas (twee van bulle wat aangekoop is, maar nog nie op die plaas gebruik nie) word voor elke teelseisoen en voor uitskot van ou en nie-geslagsgeskikte bulle gedoen.
- Een vrugbaarheidsondersoek (VBO) word op elke bul op die plaas gedoen (ook op dié bulle wat ingekoop is maar nog nie op die plaas gebruik is nie), behalwe op die bulle wat in elk geval uitgeskot word weens ouderdom of die risiko dat hul met hul dogters sal teel.
- Alle bulle word uitgeskot en geslag na vier teelseisoene. (Indien van hierdie bulle nog geslagsgeskik is en as teeldiere verkoop word, sal die winsgewendheid van VBO selfs hoër wees as hier onder aangetoon).
- Alle nie-geslagsgeskikte bulle word geslag.
- Alle oortollige verse verkry uit die gebruik van geslagsgeskikte bulle word as speenkalwers verkoop.
- Daar word 400 geslagsryp vroulike teeldiere op die plaas aangehou.
- Die bul tot koei/versverhouding is 3% vir ongetoetste bulle en 2,5% vir geslagsgeskikte bulle.
- Die teelseisoen duur vanaf 27 November tot 31 Januarie en 'n veelvaarstelsel word gebruik.
- Daar word aangeneem dat vyf persent van fetusse en kalwers tot op speen verloor word.
- Kalwers word op 5 Mei gespeen teen 'n verwagte speengewig van 230kg, die gemiddelde speengewig soos bevind deur die SA Voerkraalvereniging.
- Die prys vir speenkalwers is afgelei van die prys in Mei vir die voorafgaande vyf jaar soos verskaf deur die SA Voerkraalvereniging en behoort R8,41 te wees ten tye van speen.
Tabel 1
Tabel 1. Pryse en kostes in Suid-Afrika, 2003. | ||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
|
Tabel 2
Tabel 2. Gevolge van gebruik van geslagsgeskikte bulle teenoor ongetoetste bulle | ||
---|---|---|
Ongetoetste bulle | Geslagsgeskikte bulle | |
Eerste Hitte Besettingstempo | 46,8% | 54,5% |
Datum waarop 50% kalwers gebore | 1 Oktober | 26 September |
Datum waarop 50% kalwers ouer as 210 dae | 28 April | 23 April |
Dragtigheidspersentasie | 86% | 91% |
Aantal speenkalwers verkoop | 326 | 347 |
Gemiddelde speenouderdom (dae) | 216,4 | 218,3 |
Gemiddelde speengewig (kg) | 228,4 | 230,1 |
Aantal bulle gebruik per jaar | 12 | 10 |
Aantal bulle uitgeskot Jaar 1 | 3 | 3 |
Aantal bulle uitgeskot Jaar 2 | 3 | 2 |
Aantal nie-geslagsgeskikte bulle uitgeskot Jaar 1 | 0 | 2 |
Aantal nie-geslagsgeskikte bulle uitgeskot Jaar 2 | 0 | 1 |
Aantal bulle aangekoop per jaar | 3 | 3 |
Tabel 3
Tabel 3. Die teoretiese effek op bedryfswins tydens die eerste jaar van VBO en gebruik van geslagsgeskikte bulle in 'n kudde van 400 vroulike teeldiere (Suid-Afrika, 2003) | |||||||||
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
| |||||||||
| |||||||||
Verandering in IVRB* toe te skryf aan VBO en gebruik van geslagsgeskikte bulle | R18 710 | ||||||||
Opbrengs a.g.v. die gebruik van geslagsgeskikte bulle | 35% |
*IVRB — Inkomste voor rente en belasting
Gevolgtrekking
Hoewel daar baie veranderlikes voorkom in hierdie model blyk dit tog duidelik daaruit dat selfs 'n klein toename in die aantal vroulike diere wat beset raak tydens eerste hitte en 'n klein toename in dragtigheidspersentasie kan lei tot 'n aansienlike toename in verdienste, die veeartsonkoste ten spyt. Dit behoort baie duidelik te wees as mens na die syfers hier bo kyk dat dit definitief betaal om alle bulle deur 'n veearts te laat toets voordat hulle by die vroulike diere kom. Maak dus so gou moontlik 'n afspraak by u naaste veearts vir 'n besoek voordat die dekseisoen begin.
Vrywaring
Die inligting in hierdie artikel vervat word op die gebruiker se eie risiko gebruik. Nóg Prof. Nöthling nóg die Universiteit van Pretoria kan verantwoordelik gehou word vir enige skade van watter aard ookal wat mag voortspruit uit die gebruik daarvan.
Indien u meer inligting verlang, kontak gerus u naaste grootdierveearts.