
Kat immuunonderdrukkende virus
Dr T van Egdom BVSc en Dr C N Sparks BVSc
Hierdie siekte is ook beter bekend as kat vigs en is verwant aan die menslike HIV virus.
OORDRAG
Die virus is teenwoordig in 'n kat se speeksel. Die virus is uiters kwesbaar en sal nie sommer vir 'n lang tyd in die omgewing oorleef nie. Om hierdie rede is dit nie maklik oordraagbaar tussen katte nie. Infeksie vind hoofsaaklik plaas wanneer katte baklei en die geïnfekteerde kat byt 'n ander. Mannetjieskatte wat nie gekastreer is nie, is die grootste risiko wanneer hulle baie baklei. Die siekte word meestal gesien in rondeloper katte aangesien hulle nie gekastreer is nie en by bakleiery betrokke raak.
Kat vigs word nie maklik oorgedra tussen katte binne'n huishouding nie aangesien sulke katte gewoonlik goed met mekaar oor die weg kom, veral wanneer hulle gekastreer is. In hierdie opsig verskil dit van die kat Leukemievirus. FIV is meer algemeen onder ouer katte. Jong katte word selde besmet totdat hulle groter word en begin rondloop.
SIMPTOME WAT VEROORSAAK WORD DEUR FeLV:
'n Besmette kat kan vergrote limfkliere hê en verhoogde temperatuur 'n paar weke na blootstelling. Hierdie simptome word meestal misgekyk. Normaalweg wys sulke katte vir maande, selfs jare, nie die tipiese simptome nie. Oor die lange duur veroorsaak die virus 'n afname in die witbloedselle van die kat, wat lei tot immuunonderdrukking. Aangesien die virus immuunonderdrukking veroorsaak word verskeie simptome toegeskryf aan sekondêre infeksie. Algemene simptome is gewigsverlies, verlies van eetlus, nies, tandvleisinfeksies, ooginfeksies, afskeiding deur die neus asook enteritis. Minder algemeen word die oë en die brein ook aangetas. Tandvleisinfeksie is die algemeenste simptoom.
DIAGNOSE:
Omdat die kliniese profiel van beide FeLV en FIV so nou verwant is, is toetse beskikbaar vir beide siektes. Die toets is dieselfde soos voorheen genoem vir FeLV en word gedoen by u Dierekliniek terwyl u wag. 'n Katjie, jonger as 12 weke, wat positief toets moet 4 maande later hertoets word aangesien 'n positiewe wyfie teenliggaampies deur haar melk na die kleintjies kan oordra wat in hul bloed kan voortduur.
BEHANDELING:
Anders as FeLV, is daar medikasie beskikbaar vir die behandeling van FIV. Sommige van die antiretrovale medikasie wat by mense gebruik word, word met groot sukses by diere gebruik. Dit is baie belangrik dat die siekte vroeg gediagnoseer word en behandeling dadelik begin word. 'n Kat wat vroegtydig met behandeling begin, kan 'n lang, gelukkige lewe hê.
Sekondêre infeksies moet ook behandel word met die regte antibiotika. Mycoplasma haemofelis is 'n bloedparasiet wat somtyds FIV positiewe katte in ons omgewing affekteer en moet dadelik behandel word indien teenwoordig.
VOORKOMING:
Die risiko vir 'n kat om besmet te word met FIV, neem baie af indien die kat gesteriliseer/kastreer is. Dit verhoed dat katte rondloop en by bakleiery betrokke raak.
Indien u enige vrae het aangaande u troeteldier — kontak ons gerus per e-pos of kontak u naaste veearts.Onthou u veearts is die enigste persoon wat voldoende opgelei is om u van raad te bedien aangaande alle dierverwante kwessies.