Hoofblad | English | Artikels | Die veeartse | Skakels | Kontak ons

Snotsiekte

Dr W J Grobler BVSc


  1. INLEIDING
  2. EPIDEMIOLOGIE
  3. SIMPTOME
  4. POST MORTEM
  5. DIAGNOSE
  6. BEHEER/VOORKOMING

1. INLEIDING

Snotsiekte (Eng: Bovine malignant catarrhal fever) is 'n akute virussiekte van beeste gekenmerk deur etterige neus- en oogafskeiding en oogletsels. Min diere in 'n groep word aangetas, maar die siekte is noodlottig in feitlik alle gevalle. Die oorsaak van die siekte geassosieer met Wildebeeste is 'n Herpesvirus, maar die organisme betrokke by die oordrag vanaf skape is nog onbekend.


2. EPIDEMIOLOGIE

In Afrika word Snotsiekte hoofsaaklik deur Blouwildebeeste oorgedra, maar Swartwildebeeste kan ook as bron dien in uitsonderlike gevalle. Elders in die wÍreld tree skape op as bron van infeksie terwyl gevalle in Afrika selde met skape verbind word. Die siekte kom sonder uitsondering in beeste voor en nog geen gevalle is onder wildsbokke aangeteken nie.

Wildebeeskalwers van 2-3 maande oud skei groot hoeveelhede van die virus uit in hul neus- en oogafskeidings en dit is dus gedurende hierdie periode waartydens gevalle onder beeste in die omgewing voorkom. Daar vind nie oordrag van die virus tussen beeste plaas nie, maar dragtige koeie mag hul kalwers aansteek. Hierdie kalwers vrek gewoonlik voor die ouderdom van ses weke. Normaalweg verskyn simptome 2-4 weke na kontak met die virus, maar dit mag so lank as 7 maande neem voordat 'n dier siek word.


3. SIMPTOME

Aanvanklik toon aangetaste diere 'n waterige of slymerige oog- en neusafskeiding wat gou verander in groot hoeveelhede etterige afskeiding. Die neusspieŽl word droog, ontwikkel seertjies en die etterige afskeiding vorm 'n harde kors wat aan die neusopeninge vassit.

Diere toon verhoogde speekselvloei en haal dikwels deur 'n oop bek asem vanweŽ die korste wat die neusopening blokkeer. Die bekslymvlies is baie rooi met seertjies aan die binnekant van die lippe, die tandkussing, die verhemelte en die onderkant van die tong (Fig. 1).

Sere op die
 tandvleis

Fig. 1: Sere op die tandvleis met snotsiekte.

Die bindvlies van die oŽ is baie rooi en ontsteek en die horingvlies vertoon dof. Die ontsteking in die horingvlies ontwikkel van die buitekant af na binne toe (Fig.2). Ander minder algemene simptome is 'n bloederige diarree, ontsteking van die vel tussen die kloue, vergrote limfknope en senuweesimptome, veral in terminale gevalle: Spiertrillings, hipersensitiwiteit, nistagmus (oogtrilling) en stuiptrekkings.

Oogletsels met Snotsiekte

Fig. 2: Ontsteking van die horingvlies in 'n Snotsiektegeval.


4. POST MORTEM

Groot hoeveelhede etter word in die neusholtes aangetref; soms is daar afsterwing van die weefsels in die neusholtes. Seertjies kom voor in die bekslymvlies, slukderm, grootpens, melkpens en soms in die dun- en dikderm (Fig. 3 en 4). Puntbloedings word gesien in die lugpyp en soms is daar tekens van longontsteking aanwesig. Die lewer is dikwels vergroot en op snitvlak deurtrek van ligte areas. Die limfknope is vergroot, baie rooi en waterig.

Letsels in melkpens

Fig. 3: Erge ontsteking van die melkpens met bloedings en seertjies in die slymvlies.


Letsels in die slukderm

Fig. 4: Ontsteking van die slukderm met bloedings en rou seertjies.

Soms word bloedings en seertjies in die blaaswand gevind. Die niere mag geswolle wees met verskeie wit spikkels daarin (Fig. 5). Soms is daar groot areas van bloeding en infarksie (dele waarvan die bloedvoorsiening afgesluit is) te sien in die nierweefsel, veral indien dit deurgesny word. Die breinvliese mag baie rooi wees wat dui op breinvliesontsteking.

Swelling van die nier

Fig. 5: Swelling en edeem van die nier op snitvlak. Let op die wit spikkels wat areas van witbloedselle verteenwoordig.


5. DIAGNOSE

Die virus kan in weefsel of bloed opgespoor word deur dit te kweek of daarvoor te toets met die moderne DNA-toetse. Dit is verkieslik dat bloed voordoods in heparien getrek word, op ys gehou word en so gou moontlik na die laboratorium gestuur word. Weefsel (veral brein, limfknope, milt en die oog) van 'n dooie dier kan ook in formalien ingestuur word vir histopatologie.


6. BEHEER/VOORKOMING

Op hierdie stadium bestaan daar geen entstof ter voorkoming van Snotsiekte nie en is die enigste voorkomende maatreŽl om beeste weg te hou van Blouwildebeeste gedurende laasgenoemde se kalfseisoen. Beeste moet ten minste 500 m, maar verkieslik 1000 m van die Blouwildebeeste af gehou word.


Erkenning vir foto's:
Bristol Biomedical Image Archive © 1999 Universiteit van Bristol

Erkenning vir inligting:
Tropical African Diseases of Animals kompakte skyf uitgegee deur die Dept. VeterinÍre Tropiese Siektes, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria.