Hoofblad | English | Artikels | Die veeartse | Skakels | Kontak ons

Hartwater steeds die veeboer se grootste vyand!


Dr W J Grobler BVSc


  1. INLEIDING
  2. OORSAAK
  3. SIMPTOME
  4. POST MORTEM
  5. BEHANDELING
  6. VOORKOMING

1. INLEIDING

Hartwater is al deur die Voortrekkers in hul joernale beskryf. Dit is 'n siekte wat voor die koms van sulfamiddels en antibiotika, veral tetrasikliene, die veeboere baie hoofbrekens besorg het. Selfs in hierdie moderne tye kos die siekte ons veebedryf jaarliks miljoene rande aan voorkoming en behandeling en kan daar steeds vrektes voorkom onder sekere omstandighede.


2. OORSAAK

Die siekte word veroorsaak deur 'n organisme met die naam Ehrlichia (Cowdria) ruminantium. (Fig 1) Die organisme is maar sowat 2m (twee duisendstes van 'n millimeter) groot en word deur die bontbosluis (Amblyomma hebraeum)(Fig 2) aan vatbare herkouers oorgedra. Wanneer 'n onbesmette bosluis aan 'n siek dier suig, beland van die organismes in die bosluis se dermkanaal, waar die organismes verder ontwikkel. Latere stadiums van die bosluis sal dan die siekte aan 'n vatbare dier oordra tydens voeding. Die organismes word deur die bosluis se speekselkliere in die dier se weefsels ingespuit.

Hartwaterorganismes onder elektronmikroskoop

Fig 1: Hartwaterorganismes onder die elektronmikroskoop gesien. (ongeveer 2000 maal vergroot)



Bontbosluismannetjie

Fig 2: Die bontbosluismannetjie.


3. SIMPTOME

Binne die volgende 8 tot 30 dae groei die organismes in die limfknope en daarna in die voering van die dier se bloedvate. Na hierdie tydperk bou die dier 'n ho koors op en ontwikkel allerlei simptome wat teruggevoer kan word na skade aan die bloedvate. Die belangrikste organe wat deur die siekte aangetas word is die brein en die longe. 'n Oormaat vloeistof lek uit die beskadigde bloedvate en veroorsaak drukking op die brein wat veroorsaak dat die dier oorgevoelig raak vir uitwendige stimuli - dikwels bewe die ore, die o knip baie vinnig, veral as die kop hanteer word en die voorpote trap hoog, asof die dier oor denkbeeldige klippe wil loop. Sommige diere kou aanhoudend sonder dat daar iets in die bek is en in gevorderde gevalle l diere op die sy en bly hardloopbewegings met die pote maak terwyl die kop en nek agteroor trek.

Skade aan bloedvate van die longe lei tot longedeem of water op die longe. Die dier sal vinniger as gewoonlik asemhaal en in baie erge gevalle selfs verdrink aan die geweldige hoeveelhede vog. Dit is ook hierdie vloeistof wat dikwels as wit skuim by die dier se neus uitloop nadat dit doodgegaan het (Fig 3). In sekere rasse, veral Jerseys, kan diarree voorkom met hartwater.

Skuim in lugpyp met hartwater

Fig 3: Longedeem en wit skuim in die lugpyp


4. POST MORTEM

Met nadoodse ondersoek sal die longe baie swaar wees met 'n helder vloeistof wat uitloop as die longe deurgesny word. Wit skuim in die lugpyp is 'n sterk aanduiding dat hartwater die oorsaak van dood was. 'n Dier wat dood is vanwe baie vog op die longe sal blou oogslymvliese h omdat dit nie genoeg suurstof kon kry nie. 'n Helder vloeistof word ook in die hartsak, borsholte en soms in die buikholte aangetref (Fig 4).

Oormaat vog in hartsak en borsholte

Fig 4: Oormaat vog in die hartsak en in die borsholte met hartwater

'n Definitiewe diagnose word gemaak deur 'n breinsmeer te maak en onder die mikroskoop te ondersoek - die organismes kan gewoonlik duidelik in die selle van die bloedvate gesien word (Fig 5). Daar is ook 'n laboratoriumtoets wat die diagnose kan bevestig in die brein en groot bloedvate bv. die nekaar.

Hartwaterorganismes onder die mikroskoop gesien.

Fig 5: Hartwaterorganismes gesien in 'n breinsmeer (pyltjie). Hier is hulle ongeveer 1000 maal vergroot!


5. BEHANDELING

Daar is deesdae tientalle produkte beskikbaar wat Oksitetrasiklien as aktiewe bestanddeel bevat. Al hierdie middels sal effektief wees teen hartwater mits dit betyds en teen die korrekte dosis toegedien word. Hoe vroer die dier behandel word, hoe beter is die kanse op volledige herstel. In ernstige gevalle behoort die middel stadig binne-aars gegee te word, maar in so 'n geval moet die dier so min as moontlik hanteer word, want enige onnodige stres kan die dier laat vrek. Moet liefs nie langwerkende middels vir akute siek diere gebruik nie, aangesien die middel so gou as moontlik ho vlakke in die bloed moet bereik. Vir opvolgbehandeling is die langwerkende produkte 'n goeie idee.

In erge gevalle kan 'n dosis kortisoon toegedien word. Hierdie middels het egter ernstige newe-effekte en is slegs op veeartsvoorskrif beskikbaar. Dit moet nooit aan dragtige diere gegee word nie, tensy dit noodsaaklik is om die moeder se lewe te red. Skakel gerus u naaste veearts om meer omtrent di middels uit te vind. Die kortisoon help om die bloedvate te stabiliseer sodat daar nie meer vloeistof uitlek nie en dit help ook om die drukking op die brein te verlig.

Waterdrywende middels kan in erge gevalle help om die vog op die longe af te dryf, maar hierdie middels kan in skape tot 'n verswakking in toestand lei. Bespreek die gebruik hiervan ook gerus met 'n veearts.

Verpleging van 'n siek dier is belangrik - verskaf skaduwee, laat die dier in 'n regop posisie l om opblaas te voorkom, voorsien sagte voer en water binne bereik en draai die dier vier keer per dag op 'n ander sy om die bloedvloei na die spiere te bevorder. Diere wat 'n paar dae siek was mag medikasie benodig om die grootpens te stimuleer bv. bruinsuiker/asyn/brouersgis of die kommersile produkte wat beskikbaar is. Vitamiene B-kompleks kan help om eetlus te stimuleer en die herstel van die senustelsel aanhelp.


6. VOORKOMING

Alle herkouers jonger as drie weke het 'n natuurlike weerstand teen hartwater. Hierdie weerstand hang nie af daarvan of die dier bies ingekry het nie. Indien so 'n jong dier deur 'n besmette bosluis gebyt word, sal dit immuniteit opbou, maar nie siek word nie. As die dier nie voor drie weke oud gebyt word nie, maar daarna sal dit nog nie immuniteit h nie en wel siek word. Diere wat wel immuun is, moet gereeld deur besmette bosluise gebyt word, anders word die immuniteit na ongeveer nege maande verloor. Waak dus daarteen dat diere nie vir lang periodes heeltemal vry van bosluise is nie.

Hartwaterbloed word van siek diere, gewoonlik skape, versamel en dan gevries by -190C. Nadat die bloed ontdooi het, is die organismes vir ongeveer 30 minute nog lewendig en moet die bloed dus binne hierdie tyd binne-aars toegedien word. Jong diere onder drie weke behoort nie siek te word na toedien van bloed nie, maar diere ouer as drie weke moet goed dopgehou word. Indien moontlik word diere se temperatuur vanaf vyf dae na toedien van bloed twee maal per dag geneem. Sodra die temperatuur drasties styg, word diere behandel soos hierbo, maar kortisoon word nie gegee nie, sodat 'n behoorlike immuniteit kan ontwikkel. Dragtige diere moet verkieslik nie bloed kry nie, aangesien die koorsreaksie tot aborsie kan lei.

Enige herkouers wat vanuit hartwatervrye areas na hartwatergebiede (Sien fig 6) verskuif word moet teen hartwater ingespuit en behandel word. Kalwers van sodanige diere wat in die hartwatergebied aankom en voor drie weke oud gebyt word deur hartwaterbesmette bosluise sal egter weerstand opbou. As enige kalwers egter in die wintermaande aankom wanneer daar relatief min bosluise is, is die gee van hartwaterbesmette bloed sterk aan te beveel.

Verspreiding van Bontbosluis in Suid-Afrika

Fig 6. Die voorkoms van die bontbosluis en dus ook hartwater in Suid-Afrika.


Erkenning:

Fig 1, 3-5: Bristol Biomedical Image Archives University of Bristol 2000
Fig 6: Wetenskaplike pamflet No. 393, Dept. Landbou-tegniese dienste 1983