Hoofblad | English | Artikels | Die veeartse | Skakels | Kontak ons

Moeilike kalwing in beeste


Dr W J Grobler BVSc


  1. INLEIDING
  2. PROBLEME MET KALWING
  3. WANNEER MOET EK HULP SOEK?
  4. KOMPLIKASIES NA MOEILIKE KALWING


Die kalwingsproses bestaan uit drie dele nl:

  1. Verwyding van die serviks (baarmoedernek)
  2. Geboorte van die kalf
  3. Uitwerp van die nageboorte (plasenta)


In verse kan die proses tot sowat vier ure duur, maar in koeie wat reeds gekalf het, behoort dit nie langer as 'n uur en 'n half te duur nie.  Tydens die eerste deel toon die koei ongemak en gaan lę dikwels.  Nadat die serviks verwyd (ontsluit) het, begin die kalf se voorpote daardeur na buite beweeg (sien skets hier onder).  Hierdie verdere verwyding van die serviks stimuleer die afskeiding van oksitosien deur die brein wat sterk sametrekkings van die baarmoeder teweegbring.  So ontstaan 'n kringloop van verwyding en sametrekking wat normaalweg die kalf na buite forseer.  Die koei sal uiteraard ook tydens hierdie fase die buikspiere span en steun en so die kalf op sy pad help.

 Normaalweg word die nageboorte binne vier ure na geboorte uitgewerp.  Indien alles glad verloop, sal die baarmoeder oor die daaropvolgende vier tot ses weke weer na die nie-dragtige grootte terugkeer.  Gedurende hierdie tyd is 'n klein hoeveelheid rooibruin slymerige afskeiding normaal — dit is die oortollige weefsel wat tydens dragtigheid gevorm het wat uitgeskei word.

Die normale ligging van die beesfetus tydens geboorte


Die normale geboorteproses kan skeefloop om die volgende redes:

  1. Die koei of vers se bekken is te klein relatief tot die grootte van die kalf.
  2. Die kalf is te groot relatief tot die grootte van die koei of vers se bekken.
  3. Die kalf se ligging is ongunstig.
  4. Die baarmoeder het gedraai.
  5. Die serviks kan nie behoorlik ontsluit nie.
  6. Tweelingkalwers.
  7. Abnormale kalwers.
  8. Kalsiumtekort by die koei, veral by melkbeeste.
  9. Prolaps van die serviks.

Elkeen van hierdie redes word hier onder meer breedvoerig bespreek.


Die koei of vers se bekken is te klein relatief tot die grootte van die kalf.

Die algemeenste rede hoekom die bekken relatief te klein is, is wanneer verse te vroeg beset raak.  Hierdie is gewoonlik 'n bestuursprobleem, maar onbeplande dekking deur die buurman se op-en-wakker bul maak ook 'n groot persentasie hiervan uit.  Diere wat nie in goeie kondisie is tydens kalwing nie, kan ook sukkel aangesien hul spiere verswak en hulle nie so effektief kan druk tydens kalwing nie.  In baie van dié gevalle sal vroegtydige optrede deur 'n ervare persoon die kalf kan red, maar soms is 'n keisersnee al uitweg.


Die kalf is te groot relatief tot die grootte van die koei of vers se bekken.

Die twee hoofredes hiervoor is die gebruik van bulle wat baie swaar geboortemassas lewer en die oorvoer van koeie in die laaste drie maande van dragtigheid wat veroorsaak dat die kalwers meer gewig aansit as normaal.  In laasgenoemde geval word meer vet ook aan die binnekant van die bekken neergelę wat die ruimte verder verminder.  Beide bogenoemde twee oorsake van moeilike kalwing kan aanleiding gee tot die volgende oorsaak:


Die kalf se ligging is ongunstig.

Die normale posisie vir geboorte is wanneer die kalf met die voorpote ongeveer tien tot vyftien cm voor die neus lę.  Die voorpote en die neus vorm 'n wig wat die serviks geleidelik verwyd en so die afskeiding van oksitosien bewerk.  In 'n klein persentasie van gevalle word kalwers agterstevoor gebore, maar in dié gevalle is die agterpote gewoonlik na die koei se voorkant gedraai en is 'n persoon met baie ondervinding nodig om die kalf te verlos.

Die algemeenste abnormale liggings is wanneer die kop en nek na agter gedraai is (sien skets hier onder), of waar een of beide van die voorbene na agter strek.  Tensy die herstel van die ligging van die kalf se pote of kop baie vroeg tydens kalwing geskied, kan dit baie moeilik wees om reg te kry en is 'n keisersnee in die geval van 'n lewendige kalf of die opsny van die kalf wat reeds dood is die voorland.  Met die manipulasie van die kalf druk die koei gewoonlik met al haar mag en is dit dikwels nodig om die baarmoeder te verdoof ten einde iets te bereik.

Die fetus se kop en nek is sywaarts gedraai


Die baarmoeder het gedraai.

Die swaar dragtige baarmoeder weeg ongeveer 90kg en is slegs by die serviks geanker.  Indien 'n koei skielik val of gestamp word, kan die traagheidsmoment van die swaar baarmoeder veroorsaak dat dit in een rigting swaai.  Die gevolg hiervan is dat die draaiing die baarmoeder net voor die serviks vernou sodat daar nie ruimte is vir die kalf om gebore te word nie.  In so 'n geval sal die koei bly druk,  maar meestal kom daar nie eers vrugwater te voorskyn nie.  Daar is wel tegnieke beskryf om die koei te rol om die baarmoeder reg te draai, maar die mees praktiese oplossing is om die kalf deur 'n keisersnee te verlos,  dus is hierdie gevalle definitief rede om die veearts te skakel.


Die serviks kan nie behoorlik ontsluit nie.

'n Baie klein persentasie van verse toon 'n onvermoë van die serviks om behoorlik te ontsluit.  'n Keisersnee is gewoonlik die enigste oplossing.  Indien die serviks met 'n vorige kalwing beskadig is, kan bindweefsel vorm wat glad nie kan rek nie en so die ontsluiting onmoontlik maak.


Tweelingkalwers.

Dit gebeur dikwels dat die ledemate van die kalwers verstrengel en verskillende kalwers se pote saam deur die serviks beweeg.  Dit kos gewoonlik baie konsentrasie om uit te maak watter ledemaat hoort by watter kalf, maar net een kalf kan op 'n slag deur die geboortekanaal beweeg!


Abnormale kalwers.

Kalwers wat met een of ander misvorming ontwikkel is dikwels te groot om normaalweg gebore te word en moet deur keisersnee verlos word of indien die kalf reeds dood is, stuk vir stuk uitgehaal word.


Kalsiumtekort by die koei, veral by melkbeeste.

Gewoonlik ontwikkel melkkoors eers drie dae na die geboorte van die kalf, maar baie hoë produseerders kan reeds voor geboorte 'n kalsiumtekort hę.  Kalsium is noodsaaklik vir die sametrekking van alle spiere en dus ook vir die sametrekking van die baarmoederwand.  Na die toediening van binne-aarse kalsium vorder so 'n dier baie vinnig met die kalwing.


Prolaps van die serviks.

Koeie met baie los vel en groot genitalieë is geneig om die serviks uit te druk, veral as daar een of ander irritasie in die vagina is, byvoorbeeld met blaasontsteking.  Dit skep 'n groot probleem, want indien die koei nie naby kalwing is nie, moet die serviks teruggesit word en steke ingesit word.  Die koei moet baie fyn dopgehou word en die steke verwyder word sodra sy begin kalf.  As die serviks weer uitkom, word 'n epidurale inspuiting gegee sodat die serviks eers teruggedruk kan word voordat die kalf baie versigtig getrek word.  Die serviks en selfs die baarmoeder kan na die geboorte net so maklik uitdruk en daarom word voorkomende steke ingesit na die verlossing van die kalf.


Wanneer moet ek hulp soek?

Aangesien die oorgrote meerderheid van diere normaal kalf, moet daar 'n redelike tyd toegelaat word om te sien of die koei of vers self sal regkom.  'n Goeie riglyn is ongeveer vier ure in geval van verse en ongeveer 'n uur en 'n half by volwasse koeie.  Indien dit lyk of daar nie vordering is nie, moet 'n ervare persoon met deeglik gewasde hande die dier inwendig ondersoek om te bepaal wat die situasie is.  As die persoon hom vergewis het van die ligging van die kalf kan hy/sy die kalf probeer uittrek.

Vlekvrye staalkettings veroorsaak baie minder skade aan die kalf se pote as toue.  Dit is baie belangrik dat die een pootjie 'n paar sentimeter voor die ander een is wanneer getrek word, sodat beide skouers, of in die geval van die agterpote, beide heupe nie gelyk deur die bekken beweeg nie.  Daar behoort net getrek te word wanneer die koei druk.  

Die welsyn van die koei en kalf is hier geweldig belangrik en sover moontlik behoort die diere nie onnodig te ly nie.  Indien die hulp van twee of drie persone nie sigbare vordering bewerk nie moet professionele hulp ingeroep word.

Skouers wig vas met gelyktydige trek van voorbene

Smering van die vagina en die kalf is uiters belangrik!  Daar is geen smeermiddel so doeltreffend soos die natuurlike slym deur die nageboorte geproduseer nie en dit is een van die redes hoekom 'n mens nie te lank moet talm nie.  'n Ontsmettende seep is 'n redelike goeie alternatief, maar genoeg moet aangewend word en herhaal word sodra dit nodig word.

Die voorkop van die kalf bied gewoonlik die meeste weerstand en haak dikwels vas voor die bekkeningang en selfs by die vulva (skaamspleet).  Pasop dat die vulva nie skeur nie, want 'n skeur tot in die anus kan die koei se reproduksietoekoms 'n lelike knou gee.  Die heupe gee ook dikwels probleme en daarom word aanbeveel dat die kalf se lyf sowat 45 grade na enige kant gedraai word sodra die kop uit is.  Hierdie stap verseker dat die breedste deel van die heupe (tussen die draaibene) nie in die nouste deel van die bekken (reg horisontaal) beland nie.

Heupe wig vas as agterpote gelyk getrek word en kalf nie 45 grade gedraai is nie

Indien die persoon nie enige vordering maak binne 20 tot 30 minute nie, moet die hulp van 'n veearts ingeroep word.  Geen veearts sal omgee om 'n vars kalwing te doen nie, maar dit is uiters frustrerend om 'n droë, onwelriekende kalf te probeer uithaal nadat iemand reeds 'n paar uur of selfs 'n dag lank gespook het.  Die meeste kere is dit net daardie ekstra bietjie ondervinding wat die deurslag gee.

Bokant van blad | Probleme tydens kalwing

Komplikasies na moeilike kalwing

  1. Agtergeblewe nageboorte.
  2. Prolaps van die serviks of baarmoeder.
  3. Skeur van die baarmoeder.
  4. Baarmoederinfeksie.
  5. Gedeeltelike verlamming van die agterlyf.
  6. Beskadiging van die serviks.
  7. Aanhegting van die baarmoeder.
  8. Bloeding vanaf die baarmoeder.

Hierdie toestande word in meer detail hier onder bespreek:


Agtergeblewe nageboorte.

Indien die nageboorte nie binne twaalf ure na kalwing loskom nie, word dit as agtergeblewe beskou.  Hierdie toestand is nie naastenby so ernstig soos by mense of perde nie, maar dit verdien nogtans aandag.  Die algemene toestand van die koei gee 'n indikasie van die dringendheid waarmee 'n agtergeblewe nageboorte benader moet word.  Indien die koei lusteloos voorkom en nie wil vreet nie, word dit in 'n ernstiger lig gesien as wanneer sy nog op-en-wakker lyk.

Dit is uiters belangrik om 'n agtergeblewe nageboorte met handskoene aan te raak — deur onbeskermd daaraan te vat kan 'n persoon Besmetlike Misgeboorte (Brusellose) opdoen.  Hierdie siekte is baie onaangenaam en moeilik om te behandel dus is voorkoming van die allergrootste belang.  Deur die deel van die nageboorte wat buite hang om en om te draai en tegelykertyd baie versigtig daaraan te trek word gepoog om dit te verwyder.  Dit is baie belangrik dat die nageboorte nie afbreek met hierdie hantering nie.  Indien die nageboorte nie met die eerste probeerslag loskom nie, plaas steekpille volgens die vervaardiger se aanwysings so diep as wat u kan in die baarmoeder.  Die gebruik van 'n spesiale toediener is die beste manier om dit te doen.  Die volgende dag kan weer gepoog word om die nageboorte te verwyder,  maar indien u enigsins twyfel skakel gerus u veearts vir hulp.

Antibiotika behoort toegedien te word indien die koei enigsins siek vertoon.  Dit is altyd beter om dieselfde of 'n soortgelyke antibiotikum te gebruik as wat in die steekpille voorkom.  Sodoende kan die produkte enige moontlike infeksie saam beveg.  Skakel gerus u veearts indien u enigsins oor die behandeling twyfel.


Prolaps van die serviks of baarmoeder.

Hierdie komplikasie moet altyd in 'n ernstige lig gesien word,  veral as die hele baarmoeder buite hang.  Die baarmoeder word onderskei van die nageboorte deurdat dit baie meer solied is,  aanvanklik pienk of rooi vertoon en 'n groot massa behels,  groter as 'n rugbybal en selfs groot genoeg om 'n groot emmer te vul.

Spoedige optrede is hier van die uiterste belang — indien een van die groot bloedvate (tot sowat 2,5cm in deursnee!) gesny word,  kan die koei binne minute doodbloei.  Die baarmoeder se are word toegedruk en swelling vorder baie vinnig totdat die massa drie keer en meer geswel is.  Hoe meer die baarmoeder geswel is, hoe moeiliker is dit om terug te plaas.

So gou die prolaps opgemerk word,  moet die baarmoeder met louwarm soutwater afgespoel word en sodra dit skoon is, met 'n nat handdoek bedek word om verdere besoedeling te verhoed.  Die hulp van 'n veearts moet dadelik ingeroep word!  Hierdie komplikasie vereis professionele kennis,  baie geduld en nogmaals geduld.  In 'n klein persentasie van gevalle is daar boonop ingewande in die prolaps of skeure in die baarmoederwand wat die situasie nog verder kompliseer.


Skeur van die baarmoeder.

Hoewel die baarmoederwand baie sterk is, kan dit skeur as oormatige kragte daarop inwerk, of as dit deur infeksie of verlaagde bloedtoevoer verswak is.  Indien die baarmoeder skeur terwyl die kalf nog binne die baarmoeder is, vereis dit gewoonlik 'n keisersnee.  Indien die kalf wel gebore word, hang dit af waar die skeur is — indien dit aan die onderkant van die baarmoeder is, is dit baie gevaarliker, aangesien die baarmoederinhoud dan in die buik kan uitlek en ernstige buikvliesontsteking kan veroorsaak.   Indien die skeur aan die bokant van die baarmoeder is, is die kanse op herstel beter, aangesien die gewig van die baarmoeder die skeur tot 'n mate toetrek.   In ieder geval is die aandag van 'n veearts noodsaaklik, maar soms is slag ongelukkig die enigste uitweg.


Baarmoederinfeksie.

Al word daar hoe skoon gewerk binne die baarmoeder, is daar altyd kans vir infeksie.   Daarom is dit baie belangrik om vir 'n paar dae steekpille in die baarmoeder in te sit en soortgelyke antibiotika deur inspuiting toe te dien.   Infeksie kan lei tot onvrugbaarheid en in uiterste gevalle tot die dood van die koei, veral as sponssiekte- of soortgelyke bakterieë betrokke is.


Gedeeltelike verlamming van die agterlyf.

Aan die binnekant van die bekken verloop 'n dik senuwee aan elke kant wat die spiere van die binnebeen voorsien.   Wanneer 'n kalf se heupe vir 'n lang tyd (30 minute of langer) vassit, word hierdie senuwees beskadig en kan die koei nie na die geboorte opstaan nie.  Goeie versorging is uiters noodsaaklik,  aangesien beeste baie maklik skade aan die spiere van die agterlyf opdoen indien hulle vir lang periodes bly lę.   In erge gevalle kan dit so lank as ses weke neem vir die koei om weer op te staan,  mits sy goed opgepas word en die spiere van die agterbene nie te veel beskadig nie.


Beskadiging van die serviks.

Skade aan die serviks word baie maklik opgedoen as daar onvoldoende smering is of as die weefsels baie ru hanteer word.  Ernstige skeure kan daartoe lei dat die serviks met daaropvolgende kalwings nie behoorlik ontsluit nie.


Aanhegting van die baarmoeder.

Indien die baarmoederwand erg beskadig word of skeur,  kan aanhegtings vorm tussen die baarmoeder en die buikwand,  die derms of grootpens en selfs die binnekant van die bekken.   Hierdie aanhegtings kan lei tot onvrugbaarheid en dikwels moeilikheid met die volgende kalwing.


Bloeding vanaf die baarmoeder.

Soos reeds tevore gemeld is die twee hoofslagare van die baarmoeder tot 'n duim in deursnee.   Indien enige van dié slagare skeur of raakgesny word, is die koei binne minute dood.


Moenie huiwer om u veearts te raadpleeg nie — hy/sy bly die beste persoon om raad te gee oor siektetoestande by beeste!!

Erkenning vir sketse: Geslagskunde aantekeninge BVSc IV studente, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika


Bokant van blad | Probleme tydens kalwing | Komplikasies na kalwing

Indien u meer inligting verlang, kontak gerus u naaste grootdierveearts.